Afskop in Moskou – Rusland 30 dae op die wêreldverhoog

Vandag gooi ‘n eens geslote gemeenskap sy deure, stadions en sokkerhart oop vir die wêreld. In die Luzhniki-stadion in Moskou, sal ‘n skare van 80 000 die luisterryke openingseremonie 14:30 (SA tyd) gadeslaan.  Net 30 minute daarna speel Rusland en Saoedi-Arabië teen mekaar in die eerste wedstryd en op die beroemde Rooiplein in Moskou is daar ‘n groot konsert.

Meer as die helfte v an die wêreld se 7,6 miljard mense gaan die volgende 30 dae iets van die 2018 FIFA Wêreld Sokkerbeker in Rusland op televisie sien. Altesaam 32 internasionale spanne wat oor drie jaar gekwalifiseer het, gaan 64 wedstryde in twaalf stadions in elf Russiese gasheerstede speel. Duitsland moet sy 2014-wêreldkroon verdedig, Ysland en Panama is nuwelinge.

Suid-Afrika is, helaas, afwesig. In 2010 was dit “Ke Nako”, ons tyd, nie weer daarna in Brasilië in 2014 of nou in Rusland nie. Nogtans gaan miljoene Suid-Afrikaners opgewonde, met heimweë en wonderlike herinneringe aan ons eie 2010 Wêreldbeker die naelbyt-aksie volg.

Sokker-liefhebbers, skouspelkykers en ander nuuskieriges gaan hierdie name leer ken:  die Luzhniki-stadion in Moskou en die Sint Petersburg-stadion (7 wedstryde in elk, semi-finaal in beide en die eindstryd in Moskou), Sochi, Kazan, Nizhny Novgorod en Samara (6 wedstryde elk waarvan een ‘n kwarteindronde), die Otkrytiye-stadion in Moskou en Rostov-aan-Don (elk vyf wedstryde), Volgograd, Kaliningrad, Yekaterinburg en Saransk (elk 4 wedstryde).

Die gasheerstede lê versprei oor die land met die grootse landoppervlakte ter wêreld, 17.1 miljoen vierkante kilometer en ‘n bevolking van 144 miljoen. Dis ‘n land met ‘n lang, soms wrede geskiedenis, maar wat komponiste soos Tsjaikovsky, Rachmaninoff en  Sostakovich, ‘n ruimtevaarder soos Gagarin, politieke leiers soos Lenin, Stalin en Trotsky en sokkergrotes soos Yashin, Ivanov en Dasyev opgelewer het.

Rusland se tema vir sy toernooi is “Voetbal vir Vriendskap”.  Dit herinner aan Dutisland se 2006-slagspreuk “Tyd om nuwe vriende te maak”.  Dit is die krag van ‘n Wêreldbeker. Televisiekykers en besoekers sien en ervaar baie meer van die land en sy mense as die aksie in die stadions. Lank voor die toernooi en lank daarna kom besoekers, sakelui en beleggers in jou land aan. Hulle soek na ‘n unieke ervaring, ‘n sake- of beleggingsgeleentheid. Die drama en opwinding in die stadions het ‘n beproefde suksesresep en reëls. FIFA sorg daarvoor.

Dis die gasheer land se verantwoordelikheid – en wonderlike geleentheid – om ongunstige indrukke of  stereotipering van jou land nie net te weerlê nie, maar te verplaas met jou eie, unieke en egte gasvryheid, hartlikheid, diens, kultuur, musiek, bly- en eetplekke, tradisionele kos en drank. Geen ander land kan jou dit nadoen nie.  Bemarking, ook vir ‘n land, is in wese differensiasie: hoe is jy anders en/of beter as vergelykbares?

Daar is baie ekonome, kritici, politici, aktiviste, ontleders, kommentators en joernaliste wat sinies en krities is. Hul standpunte is die Wêreldbeker bevoordeel net die korruptes in die regering, die BlinkStefaanse van FIFA, kaap lande se begrotings vir vertonerigheid, pleks van armes se behoeftes en die armes wat straatsokker moet speel, kan nie duur wedstrydkaartjies bekostig nie.  Gasheerlande sit agterna met wit olifante wat agteruitgaan of duur instandhouding verg. Sommige staaf hul argumente met syfers. Korrupsieklagtes en die vertrek van FIFA-hoës het die argumente gesterk.

Baie mense koester te hoë verwagtinge oor die Wêreldbeker en is teleurgestel.   Die Wêreldbeker is en was nog nooit ‘n towerstaf wat armoede wegvee en skole, hospitale en huise bou nie.  Dit is ’n reuse sportbyeenkoms wat stadions, oefen- en blyplekke nodig het.  Dan moet daar vervoerstelsels wees om die skares by die wedstryd en terug te kry en natuurlik moet almal veilig voel. Die res is ’n bonus.

Daar is ook ‘n positiewe keersy.  Die gasheerland het die geleentheid éń verantwoordelikheid om die toernooi te gebruik as ‘n slim hefboom en katalisator om sy land positief te bemark, nuwe infrastruktuur te skep, bestaande infrastruktuur op te knap, toeriste, sakelui en beleggers te lok en te beïndruk en die hele proses te beplan vir ‘n maksimum-bydrae tot sy ontwikkelingsdoelwitte. Suid-Afrikan het o.m. gebaat by beter openbare vervoer, Engeland het die Olimpiese Spele in Londen gebruik om die “agtergeblewe” ooste van dié wêreldstad ‘n inspuiting te gee en die modulêre stadion te hergebruik.

Die eerstydse minister van Fiansies, Pravin Gordhan, het bereken dat Suid-Afrika se 2010-toernooi R38 miljard (‘n 0,4% toename in die bruto binnelandse produk) tot die ekonomie bygedra het. Die regering het meer as R33 miljard belê in infrastruktuur en voorbereiding, waarvan R12 miljard aan stadions en R11 miljard aan vervoerinfrastruktuur bestee is.

Baie mense verlang terug na daardie wonderlike dertig dae en die aanloop en opbou van die gees.  Die land was ’n miernes van hyskrane, paaie, verfraaiing en sokker-Vrydae.  In sakeondernemings is sokker-toernooie gespeel en kinderpartytjies was sokker speel, koek en koeldrank.

Suid-Afrikaanse vlaggies op motors, Bafana-klere, allerlei aandenkings, sokkermanie in skole, maatskappye, gemeenskappe, ja selfs kerke, het ons land  en mense ’n nuwe, heerlike sy van onsself laat sien.  En die wonderlike/verpeste vuvuzela’s is ’n weghol-uitvoerproduk wat ’n fassinerende, kleurvolle, ryke en prettige Suid-Afrika versinnebeeld.

Ons vergeet soms watter infrastruktuur, opknappings en nuwe dienste regstreeks uit die aanbied van die Wêreldbeker gespruit het of daardeur werklikheid geword het.  In Kaapstad was die totale belegging uit die owerheidsektor R12,4 miljard. 

Hieronder tel Kaapstad Stadion, die MyCiTi-busdiens, die Groenpunt Stedelike Park, die M5- en Hospitaaldraai-padwisselaars, voetganger-oorbrûe, opknappings aan Athlone en Phillipi-stadions, die Parade, Kaapstad Internasionale Lughawe, Kaapstad-stasie en die verfraaiing van verskeie dele.

Daar was duisende vrywilligers wat met opleiding, blootstelling en wêreldvlak-ervaring meer bemarkbaar in die arbeidsmark was, township-toerisme het ‚n hupstoot gekry, artikels en handewerk uit Afrika en Suid-Afrika was hoog in aanvraag.

In die Kaap is 3 000 aspirant-kunstenaars afgerig vir sukses op die verhoog.  Uit hul geledere is 160 gekies om op te tree op die Wêreldbeker-verhoë in Kaapstad en so ’n loopbaan af te skop. Daar is groen beplan – rommelskeiding, kraan-drinkwater, inligting oor klimaatverandering, hulpbron-benutting en -besparing, herwinbare produkte, bewusmaking.

Wat was Suid-Afrika se suksesresep wat doemprofete verkeerd bewys het?

Eerstens was dit die droom om die wêreld se grootste sportgebeurtenis ná jare se uitsluiting weens apartheid aan te bied – die eerste keer in Afrika.

Tweedens was die aanloklike vrugte van sukses nuwe of opgeknapte stadions, vervoerstelsels, paaie, lughawens en openbare ruimtes; ’n internasionale bemarkingsgeleentheid van ses jaar wat geen geld kan koop nie; en die kans om 1994 se reënboognasie werklik te verenig.

Derdens was die straf vir mislukking te aaklig om te bedink – as FIFA die toernooi weens ons gebrou weggeneem het, sou ons vandag nog ons koppe in skaamte laat sak het.

Vierdens het ons politici vir ’n kosbare tydperk steeds oor ander sake baklei, maar saamgewerk vir die Wêreldbeker. 

Vyfdens het nasionale, provinsiale en plaaslike regerings (onder verskillende politieke bewind in die Wes-Kaap) saamgewerk en hul begrotings, planne en werk belyn.  Dié ekonomiese vonk het die privaatsektor oorreed om te belê.

Laastens – en dalk die belangrikste? – was dat Suid-Afrikaners trots was, mekaar gevind het soos in ’94 se verkiesingstoue en geweet het – ons káń. Hierdie wenresep is nog geldig – dit kort net leierskap.

Dis tyd vir die skouspel. As jy voor die telelvisie sit met jou vuvuzela, sokkerhelmet, serp en ‘n knerts wodka gaan jy ‘n stuk van daardie 2010-“gees” beleef.  

Pieter Cronjé is ‘n onafhankllike internasionale konsultant wat Kaapstad se Kommunikasiedirekteur en Wêreldbeker-woordvoerder was. Hy is ná Suid-Afrika se 2010 Wêreldbeker na Brasilië en twee maal na Rusland genooi om daardie lande met hul voorbereiding vir 2014 en 2018 te help.