Donker Wolk of Silwer Randjie?
Op 27 April 2019 vier Suid-Afrika die silwer bruilof van sy demokrasie. Dit is dan 25 jaar sedert daardie historiese verkiesing van 1994 wat apartheid formeel beëindig het.
Die aanvanklike euforie oor die reënboognasie en sy vreedsame oorgang het sedertdien aansienlik afgeneem. Wanneer Suid-Afrikaners op 8 Mei 2019 stem, is ‘n groot klomp kiesers meer ontnugter, sinies, besorgd en bang as in 1994. “Staatskaping”, “Gupta”, “Bosasa”, “Zondo”en “Zuma” het daarvoor gesorg. Is daar ‘n silwer randjie rondom die donker wolke van plundery, korrupsie, swak dienslewering, ‘n futlose ekonomie, etiekloosheid, armoede, ongelykheid en onverdraagsaamheid?
1994 was die kantelpunt vir voortgesette geweld of vrede. Is die 2019-verkiesing die kantelpunt vir Suid-Afrika se moeisame herstel van sy ekonomie, orde, waardes en ‘n funksionele land? Of is dit ‘n afwaartse spiraal weens ‘n terminale, sistemiese rampokker-kanker wat die ekonomie, groei en Suid-Afrika se internasionale beeld deur die modder sleep en populisme en geweld aanblaas? Dringender nog, gaan die finansiële, bestuurs- en instandhoudingskrisis by Eskom SA se ekonomiese lig uitdoof?
Is 2019 die laaste verkiesing voor ‘n herskikking van politieke magte?
Die dringendheid vir die 1994-verkiesing het dramaties opgelaai ná die sluipmoord op Chris Hani in April 1993. Internasionale kenners het gewaarsku Suid-Afrika het twee jaar, minstens een, nodig om die verkiesing te reël. Dit het in vier maande geskied.
In Desember 1993 het die eerste Onafhanklike Verkiesingskommissie bestaan uit een: Regter Johann Kriegler. Teen stemdag 27 April 1994, was 350 000 in die veld. Die meeste van die meer as 20 miljoen kiesers het nooit tevore gestem nie. Daar was onkunde, vrees, intimidasie, disinformasie. Die OVK en die Educational Support Services Trust (ESST) het ses miljoen eksemplare van ‘n kieserhandleiding in elf tale versprei en kieseropvoeding onderneem. Die stempersentasie was uiteindelik 86% en daar was minder as 1% bedorwe stembriewe.
‘n Derde van die meer as 10 000 stemburo’s het nie krag of water gehad nie. Daar was geen kieserslys nie en mense kon stem waar hulle wou – ‘n logistieke nagmerrie. Daar was telefone, tweerigtingradio’s en fakse, maar geen webtuistes, e-pos, sosiale media of slimfone nie. Daar was geweld en ontoeganklike gebiede, Bophuthatswana het verseg om deel te neem en bloed het gevloei met ‘n regse inval. Negentien Inkatha-ondersteuners is ‘n maand voor die verkiesing tydens ‘n optog na die destydse Shell House doodgskiet deur ANC-wagte. KwaZulu-Natal het in beseringstyd besluit om deel te neem. Inkatha en ANC-ondersteuners het mekaar afgemaai en daar was regse sabotasie.
Uiteindelik is die verkiesingsuitslag, deur die OVK gesertifiseer as “wesenlik vry en regverdig’”: ANC 62,65%, NP 20,39% en IVP 10,54%. Die land was kalm, pres. Neslon Mandela is ingehuldig, daar was ‘n nuwe volkslied en simbole en ‘n regering van nasionale eenheid saam met mnr. F.W. de Klerk.
Apartheid was die gom wat ‘n breë groep van Suid-Afrikaanse en internasionale politieke partye en drukgroepe met ideologiese verskille verenig het. ‘n Kwarteeu later, bly apartheid die sondebok vir baie van die ANC-regering se gebreke, maar stemme in sy midde sê dit raak nou afgesaag. Die party wat 25 jaar aan bewind is se telkaart het suksesse, maar heelwat vermybare mislukkings en eie doele. In 2019 lê die verdelingslyne oor dienslewering, nasionalisering, grondonteiening, gratis opvoeding en mediese sorg, armoede en ongelykheid – in wese ‘n regstaat of ‘n rotstaat.
In 1994 was baie hoop op Mnr Mandela gevestig. Sy boodskap was versoening, nie vergelding nie, saamwerk, nie twis nie. 25 jaar later hunker baie na sy dienende leierskap wat die ANC lankal verloën het. Vir Mandela se kritici was hy of ‘n “terroris en kommunis” of ‘n “uitverkoper van swart belange”. Die ANC was in 1994 verenig en sonder die opsigtelike faksies wat hom vandag vreet en verdeel en fokus op die party eerder as die land se beswil hou.
Baie Suid-Afrikaners vestig hul hoop op pres. Cyril Ramaphosa en oorweeg selfs om provinsiaal DA en nasionaal ANC te stem. Sy ondersteuners glo ‘n oorwinning sal hom die mandaat gee om instellings te laat optree teen partygenote wat gesteel, bedrieg en geknoei het. Lastige vrae oor sy eie kennis en stille aandadigheid as senior lid van die ANC-binnekring bly hang. Die proporsionele stemstelsel beteken egter jy stem nie vir Ramaphosa nie, maar vir die ANC. Kiesers sal ook moet onthou ‘n party se telkaart en beleid is belangriker as sy doeltreffende kritiek op ander partye.
Onafhanklike media, ondersoekende joernaliste, fluitjieblasers en kritici met ‘n gewete, ‘n Openbare Beskermer, drukgroepe soos Freedom Under Law, die Helen Suzman-stigting, Right2Know, regterlike kommissies en ander stemme het die kattenes van kader-ontplooing, staatskaping en selfverryking blootgelê.
Aartsbiskop Thabo Makgoba waarsku tereg dat Suid-Afrikaners nie hul hoop op leiers en mense moet vestig nie, maar sterk, onafhanklike en eerbare instellings. SA mag ‘n model-grondwet hê, onafhanklike media en ‘n goeie regstelsel, maar dis die wil van eerbare, bevoegde mense wat hierdie wigte en teenwigte moet laat werk.
Soos Vyatsjeslav Molotov, Russiese premier ons herinner: “Die probleem met vrye verkiesings is dat jy nooit weet hoe die uitslag sal verloop nie!”
Met die groot onsekerheid, bomenslike uitdaging om die 1994-verkiesing in net vier maande te reël, het regter Johann Kriegler, OVK-voorsitter, na die situasie verwys as “’n onoorkomelike geleentheid”. Nadat die verkiesing vreedsaam en kalm afgeloop het, het hy erken: “Ons was dalk te onnosel om te besef dis onmoontlik.”
Mag dié wens ook geld vir die silwer randjie om die 2019-verkesingwolk.
Pieter Cronjé is ‘n onafhanklike, internasionale konsultant en kommentator en was kommunikasiedirekteur en woordvoerder van die OVK in 1994.