“Chernobyl” – 33 jaar ná die ergste kernramp ooit, steeds raakpunte vir Suid-Afrika
Agter die wêreld se ergste kernramp ná die ontploffing van ‘n reaktor by die Tsjernobil-kernkragstasie in die destydse Sowjet-unie op 26 April 1986, lê tydlose vermanings oor ideologiese leuens, toesmeer en roekeloosheid oor menselewens – ook vir Suid-Afrika.
Die historiese televisie-trefferreeks, “Chernobyl” wat miljoene kykers geboei het, het dikwels na aan die nerf vir ‘n Suid-Afrikaanse kyker gesny: Die blinde lojaliteit wat die Nasionale Party, die ANC en die EFF opeis, die groepdenke en -druk, die verguising van andersdenkendes en die oortuiging dat die doel twyfelagtige, oneerlike middele regverdig.
Net soos Beyers Naudé en ander “liberale” onder NP-bewind uitgewerp is vir die veroordeling van apartheid, is (swart) etiese, beginselvaste en kritiese politici, sakelui en staatsamptenare onder die Zuma-bewind uitgedryf en as “clever blacks” gebrandmerk. Die veiligheidsnet van die NP-bewind en die gekaapte veiligheidsmasjinerie onder Zuma was vreesaanjaend vir die geteikendes. Die spioenasie en intimidasie is nie verby nie.
Pres Thabo Mbeki het wetenskaplike navorsing oor VIGS verwerp, baie mense het gesterf. Hoe is en word die Koeberg-kernkragstasie buite Kaapstad bedryf, hoe het die “moer” destyds die kragkrisis veroorsaak? Dink aan die finansiële en veiligheidsimplikasies van oud-pres. Zuma se behepte, geheime geknoei om Russiese kernkragsentrales hier te bou…….
Tsjernobil buite die nou spookdorp Pripijat in die Oekraïne, moes toets of reaktor vier met ‘n tydelike kragonderbreking veilig beheer kan word. Die reaktorbestuur was ingenieurs en ander professionele lui, maar die Kommunisteparty, lojaliteit en bevordering as beloning het die toutjies getrek. Die toets was tien uur laat en met ‘n onervare skofspan, maar die hardkoppige, arrogante Anatoly Dyatlov, assistent-ingenieur van Tsjernobil, het die span gedreig en gedwing om voort te gaan en veiligheidsreëls te verontagsaam.
Selfs toe die kontrolepaneel wys hoe die elektriese krag onder die veiligheidsperk daal, die verkoelingspompe se waterdruk tekortskiet en hoe die krag van die reaktor van sy ontwerpvermoë van 3200 MW opskiet tot 33 000 MW het Dyatlov bloot sy “idiotiese” personeel geblameer.
Toe ‘n operateur die “meester”-noodveiligheidsknop wat die reaktor sou afskakel, druk, was die kernreaksie onomkeerbaar. Stoompype het gebars, die reaktor se deksel van 1 000 ton is die lug ingeblaas en suurstof en superverhitte grafiet in die reaktor-beheerstawe het ‘n ontploffing gelykstaande aan minstens 2 ton TNT veroorsaak.
Radioaktiewe materiaal is sewe dae die lug in geblaas wat so ver as Swede en Brittanje gemeet is. ‘n Senior “kabinetslid”, Boris Scherbina, is in beheer van die rampbestuur geplaas met prof. Valery Legasov, ‘n kernkenner, as hoof van die span wetenskaplikes. Legasov se krtiek oor ontoereikende veiligheid by Russiese reaktors krap die Kremlin om. Ná aanvanklike wantroue en botsings, respekteer Scherbina en Legasov mekaar en hulle lig die Sowjet-ministersraad onder Mikhail Gorbatsjof saam in. Desondanks spioeneer die KGB op hulle en agtervolg hulle. Rusland ontken aanvanklik die erns van die ramp en sensor nuus.
In die opruimings- en ontruimingsproses word kosbare tyd gemors, dit verg ongekende hulpbronne, militêre toerusting en heldedae van onbeskermde brandweermanne, reaktor- en militêre personeel en mynwerkers wat onder die reaktor moes intonnel. Die amptelike Russiese dodetal staan steeds op 31, hoewel baie bronne die sterftes weens kanker en blootstelling aan bestraling in die duisende skat, maar, sonder behoorlike wetenskaplike navorsing, bly dit raaiskote. Wat seker is, is dat bestralingsiekte die aakligste lyding veroorsaak.
Legasov verteenwoordig die Sowjet-Unie by die Internasionale Atoomagentskap se sitting in Wene oor die ramp, maar verdoesel die werklike feite so goed dat hy ‘n hoë Russiese eerbewys vir sy reputasiebestuur ontvang.
Maande verloop. Die Sowjet-regering sloer steeds met noodsaaklike veiligheidsmaatreëls by 16 ander kernkragstasie met dieselfde noodlottige ontwerpfoute as Tsjernobil en Legasov raak al meer ontnugter. Uiteindelik lewer Scherbina, Ulana Khomyuk (‘n fiktiewe, saamgestelde karakter in die reeks wat Legasov se groot span wetenskaplikes uitbeeld) en Legasov getuienis in die verhoor van Dyatlov, Nikolai Fomin en Victor Bryukhanov wat tot tien jaar hardearbeid gevonnis word.
Legasov wantrou die “skynverhoor”, al is heelwat Russiese wetenskaplikes teenwoordig. Hy verduidelik presies hoe die ramp stap vir stap onvermydelik geword het met Dyatlov se roekelose opdragte. Dan los Legasov die werklike bom: die meester-veiligheidskontrole kon nie die ontwerpfoute van Tsjernobil en die ander 16 RBMK-kragstasies in Rusland keer nie.
Toe die voorsittende regter vra “hoekom”, steek Legasov die Rubicon oor: Daardie Russiese kernreaktors word nie, soos in die Weste, in beton omhul, met behoorlik verrykte kernbrandstof bedryf nie en die boron-beheerstawe wat die vlak van radio-aktiwiteit beheer, het grafietpunte wat die reaktiwiteit laat opskiet. “Want dit is goedkoper!” Erger nog: “Daardie inligting is van die operateurs weerhou.” Legasov erken hy het onder opdrag in Wene vir die Atoomagentskap en die wêreld gelieg oor Tsjernobil.
Die regter waarsku hom ernstig om nie die staat vir die ongeluk te blameer nie. Legasov deins nie terug nie: “Ons geheime en ons leuens. Dit definieer ons. As die waarheid aanstoot gee, lieg en lieg ons totdat ons nie meer onthou nie, maar dit is nog daar. Elke leuen wat ons vertel, is ‘n skuld aan die waarheid. Vroeër of later word daardie skuld betaal.”
Twee jaar ná die ramp het Legasov, ontnugter en verstoot en met simptome van stralingsverwante kanker, homself opgehang. Scherbina is in 1990 aan kanker dood.
Die reeks “Chernobyl” is gedramatiseer, maar deeglik histories nagevors. Kritici sê die vervaardigers het afgewyk van sekere feite, maar niemand betwis die sentrale verhaal nie.
En nou die Suid-Afrikaanse raakpunte. Scherbina dra ‘n “dom” besluit van bo oor wat Legasov bevraagteken. “’n Oningeligte arbitrêre besluit wat wie weet hoeveel lewens sal kos, geneem deur een of ander appartchik, ‘n party-beroepsman?, “ vra hy.
Die KGB neem Legasov se navorsingsgenoot, Khomyuk, in hegtenis omdat sy die bestralingsslagoffers in die hospitaal ondervra. Legasov konfronteer Charkov, die KGB-owerste, om haar vry te laat en vra hoekom die KGB hulle nie vertrou nie en agtervolg. Charkov antwoord: “Mense volg jou, mense volg hulle en daardie twee volg my. Die KGB is ‘n sirkel van verantwoordbaarheid – vertrou, maar bevestig.” Legasov aanvaar persoonlik verantwoordelikheid vir Khomyuk en Charkov laat haar vry.
Toe Khomyuk vir Dyatlov in die hospitaal uitvra oor gebeure, sê hy: “Jy dink die regte vraag sal jou die waarheid gee? Daar is geen waarheid nie. Vra die base wat jy wil en jy sal ‘n leuen kry. En ek sal ‘n koeël kry.”
Ná Legasov se leuens in Wene, gee Charkov hom ‘n hoë Sowjet-eerbewys, maar Legasov eis dat die regering ná maande se daadloosheid kernveiligheid moet verbeter. “Eers die verhoor, daarna sal ons ons skurke, helde en waarheid hê. Daarna kan ons aan die reaktors aandag skenk,” antwoord die KGB-hoë rustig.
Tydens ‘n verdaging in die verhoor, gesels Scherbina, nou met kankersimptome, en Legasov openhartig oor hoedat hy in beheer geplaas is met die versekering dis nie so ernstig nie. Scherbina voel sy lewe was betekenisloos. Legasov: “Ander wetenskaplikes kon doen wat ek gedoen het. Jy het al die hulp wat ons gevra het, gegee. Wie anders kon dit doen? Van al die ministers en onderministers, die hele spul gehoorsame gekke, het hulle per ongeluk die een goeie man gestuur. In hemelsnaam, Boris, jy was die een wat die meeste saak gemaak het.”
Nadat Legasov die waarheid in die verhoor gepraat het, konfronteer die KGB se siedende Charkov hom en dwing hom om te erken dat sy pa en hy getroue en lojale kommuniste was. “Jy is een van ons. Maar julle wetenskaplikes het ‘n obessie met redes. As die koeël jou skedel tref, wat sal dit saakmaak hoekom? Ek kan enigiets met jou doen, maar ek wil hê jy moet weet ek weet jy is nie dapper of ‘n held nie. Jy is net ‘n sterwende man wat homself vergeet het.” Daarna word Legasov verbied om ooit weer oor Tsjernobil te praat en al sy gesag en besluitneming word opgeskort. “Mindere mense sal die eer vir jou werk kry.”
Toe Legasov vra wat sal gebeur as hy hom teen die ballingskap verset, sê Charkov bloot: “Waarom bekommer jy jou oor iets wat nooit sal gebeur nie?” Vir Legasov was dit die juiste, siniese opsomming van die Sowjet-regering se onverskilligheid teenoor kernveiligheid en menselewens. (Legasov het alleen gesterf. Boris Jeltsin, Gorbatsjof se opvolger, het Legasov postuum vereer).
Legasov se slotmonoloog is: “Ons wetenskaplikes is naïef. Ons is so gefokus op ons soeke na die waarheid dat ons vergeet hoe min mense werklik wil hê ons moet dit vind, maar dit is altyd daar of ons dit sien of nie……….Die waarheid het vrede met ons behoeftes of versugtinge, ons regerings, ons ideologieë en ons godsdiens. Dit sal altyd lê en wag. En dít is die geskenk van Tsjernobil: Waar ek eens die prys van die waarheid sou vrees, vra ek nou net wat is die prys van leuens?”
Gorbatsjof in 2006: “die kernineenstorting by Tsjernobil….was dalk die werklike oorsaak vir die verbrokkeling van die Sowjet-unie.” Vandag bedek ‘n betonsarkofaag die aanleg. Die radioaktief besmette en ontruimde spergebied in die Oekraïne en Belarus is 2 600 vierkante kilometer.
Dink bietjie hoe die Tsjernobil-kloutjie van toesmeer en geld by die Suid-Afrikaanse oor uitkom: SAL se roetes, Eskom se steenkool, PRASA se lokomotiewe, die Zondo-onthullings, ensovoorts, ensovoorts……………..