Olimpiese spele: Moet SA dit aanbied?

Die prestasies en medalje-oes van Suid-Afrika se Olimpiese span in Londen laat ons, met reg, trots voel. 

Baie kykers en sportliefhebbers dink dalk Suid-Afrika moet darem nou die Olimpiese  Spele aanbied.  Ons het ’n sukses van die Wereldsokkerbeker in 2010 gemaak en Kaapstad was ongelukkig met sy vorige Olimpiese bod.  Dit sal wonderlik wees om ‘n slag die room van die wereld se atlete  hier te sien sonder om ten duurste te reis.

Daar is ‘n groot verskil tussen kyk en geniet en om die Spele self aan te bied.  Daar is ook ‘n groot verskil tussen die aanbied van die Sokkerwereldbeker en die Olimpiese Spele.

Die hele land het die 2010 Wereldbeker aangebied en die gasheerstede het elk hul deel gedoen – met infrastruktuur, dienste vir besoekers en logistiek.  In so ‘n nasionale poging is dit makliker vir die sentrale regering om ruim by te dra.

Die Olimpiese Spele word deur ‘n enkele stad aangebied.  Een stad is verantwoordelik vir die atletiek-stadion, die fietsrybaan, die boog-,pistool- en geweerskietbane, die swembaddens en duikplanke, die gimnastieksale, arenas vir perdesport, water vir roei en talle ander sportsoorte wat elk die hoogste vereistes stel.

Daardie stad moet genoeg akkommodasie, huurmotors, vrywilligers, tolke, nooddienste en gesondheidsorg he vir ‘n inval van derduisende atlete, binnelandse en buitelandse besoekers en beamptes.

Alles, van sanitasie en kragvoorsieining tot vullisverwydering en wetstoepassing moet soos ‘n Olimpiese horlosie werk.

Die enkele belangrikste vereiste is ‘n gesofistikeerde, uiters betroubare, gerieflike, eenvoudig verstaanbare en flink vervoerstelsel.  Hoe verder die aktiwiteite versprei le, hoe meer krities raak die vervoerstelsel wat derduisendes betyds moet besorg en afvoer.  Dink maar aan die chaos as net een enkele byeenkoms nie betyds kan begin nie of as mense moet wag om vining by ‘n ander sport uit te kom. 

Geen gasheerstad het alles wat die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) vereis nie.  Reuse bykomende beleggings in infrastruktuur, opgraderings en operasionele vermoe is nodig.  Dis tegelyk ‘n enorme miltere operasie en belegging in ‘n mega-onderneming wat twintig tot dertig jaar van ‘n gasheerstad se geskiedenis kan beinvloed – die ruimtelike, ingeniers- en finansiele beplanning, ‘n duur bodproses teen formidabele mededingers, die toeken van die bod, al die voorbereiding, die foutlose aanbied self en dan, krities, die instandhouding, benutting van al die geriewe en die oes insamel van bemarking, beleggings en toerisme.

Tensy die sentrale regering dus die aanbied van die Spele deur een stad as ‘n nasionale prioriteit beskou en bereid is om reusebedrae in ‘n enkele stad te bele, kan een stad nie die kapitaal en risiko bekostig nie.  Om groot lenings te diens as die Spele verby is, die verwagte inkomste nie gerealiseer het nie en die kostes handuit geruk het, is ‘n nagmerrie.  Die Olimpiese Spele bied talle gevallestudies vir suksesse en mislukkings.

Nou hoekom pak stede dan so ‘n duur, riskante en moeilike projek aan?  ‘n Belangrike rede is om die Spele ‘n katalisator en instrument te maak om jou stad se langtermyn ontwikkelingsdoelwitte te verwesenlik – in terme van infrastruktuur, opgradering, sosiale en ekonomiese ontwikkeling, beter ruimtelike beplanning, geriewe en dienste. (Barcelona en Beijing is tevrede) Jy moet presies weet waarheen jy op pad is en hoe die Spele hulpbronmne, energie, beplanning, politieke en bestuurswil en finansiele bronne kan belyn (amper soos die planete) om dit in aksie en tasbare resultate om te skakel. 

Die ooste van Londen waar die Olimpiese swaartepunt is, was tradisioneel arm en afgeskeep.  Die aanbied van die Spele was ‘n doelbewuste en vooraf beplande trekpleister vir kommersiele belegging, Londense en Britse werkgeleenthede, omgewingsverbetering, beter vervoer, huisvesting en lewensomstandighede.  Die Britte het deeglik verder beplan om die langer termyn voordele na die omliggende streek en die hele Brittanje te laat uitkring.  Selfs die Statebondsleande is deel van die nalatenskapprogram. 

Die nalatenskap van die Spele is die werklike toets van sukses.  Die vooraf-belangstelling en opwinding vir die voorbereiding, die gebeurtenis self, die miljarde televisiekykers en die miljoene besoekers gaan verby.  Na die tyd kom die ouditeure, kritici en ontleders om die werklike sukses, gemeet in volhoubare ontwikkeling, werkskepping, beleggings, groei, kostes en voordele te meet.

Die Spele is ook ‘n ongelooflike bemarkings- en publisiteitsgeleentheid – vandat die bodproses begin het, tydens en jare na die aanbied.  Daar is wereldwye nuuskierigheid en media-belangstelling.  Dit is hoekom jy baie ervare, kundige, ingeligte en beskikbare inligtingsbronne en media-woordvoerders in die geledere van die organiseerders en al die rolspelers nodig het.  Al die kwelvrae oor kostes, tydskale, vervoer, veiligheid en logistieke reelings sal kom.  Jy is of gereed, bekwaam en altyd beskikbaar om dit te antwoord of swak publisiteit is jou voorland.

As die wereld se televisiekameras op jou gerig is, is dit ‘n wonderlike geleentheid om jou beste voet voor te sit.  Jy is ook baie kwesbaar – dit kos net een terreuraanval of  voorval waarin toeskouers beseer of dood is en dit bly die etiket van daardie Spele.

Sokker bly die nommner een kykersport.  As jy al die telelvisiekyk-geleenthede dwarsoor die wereld bymekaartel (een kyker se talle klere) was die kumulatiewe kykerstal vir die Beijing Spele 6 miljard.  Vir die Sokkerwereldbeker in 2010 was dit 26 miljard!

Moet Suid-Afrika die Olimpiese Spele aanbied?  Na my mening nie nou nie en nie gou nie. 

Bied intussen nasionale en internasionele byeenkomste aan wat bestaande geriewe kan benut met min of geen aanpassing, wat minder riskant en duur is en ‘n goeie opbrengs op belegging, werk en doelwitte bied.  Beplan jou stad en land se sosio-ekonomiese doelwitte deeglik, vind die byeenkomste wat inpas by jou stad en land se unieke eienskappe (Kaapstad het berge, oseane en natuurskoon wat goed werk vir buitelugsport soos padwedlope, seiljagvaart, swem en fietsry).  Gebruik jou ervaring, suksesse, lesse en mislukkings as boublokke vir groter dinge.  Skerp jou operasionele vernuf in ingenieurswese, beplanning, logistiek, projek- en risikobestuur op, maak baie (en koserwatief) seker van jou finansiele besigheids- en befondsingsmodel en beplan veral deeglik vir die nalatenskap.  Dis die ware toets.

Pieter Cronje was as Kaapstad se Kommunikasiedirekteur en woordvoer vyf jaar lank by die 2010 Sokkerwereldbeker betrokke.  Hy is ‘n onafhanklike konsultant wat Brasilie en Mordovie in Rusland oor hul Wereldbekers in 2014 en 2018 adviseer.