Politiek, ekonomie eers tersyde – Hoe vaar Zuma-Regering met Kommunikasie?

Geloofwaardige, konsekwente en doeltreffende kommunikasie is die keersy van dienslewering en regering – die kerntaak waarvoor burgers hul openbare verteenwoordigers verkies. 

As jou resultate en kommunikasie met jou burgery redelik is, sal jy, ondanks kritiek, breë aanvaarding en steun geniet.

Die ANC-regering van Pres. Jacob Zuma is al deur baie deskundiges gekritiseer: van die ekonomie tot kernkrag, van etiek tot die reg. Die regering behaal suksesse, maar “die goeie storie” en sy verteller word deur al minder geglo en weersin ná die jakkasldraaie rondom die Konstitusionele Hof se verdoemende uitspraak laai op.

Die onmiddellike reikwydte van elektroniese nuus- en sosiale media plaas regeringsleiers konstant in die kollig. Pres. Zuma se botsing met die reg, Nkandla, aanvalle op die Openbare Beskermer, die kernprogram, Marikana, die Guptas, geweld in die Parlement, krisisse by die SAUK, Eskom, SAL was ’n vulletjie teen “Nene-gate” en die hofuitspraak – albei kommunikasie-kantelpunte.

Presidensiële verduidelikings word verwerp as foefies.  “Die hof-uitspraak was nuttig, dankie, ek is jammer al was dit nie my skuld nie.” – finish en klaar? ’n Gerespekteerde Finansiesminister word disrespekvol met ’n twyfelagtige opvolger vervang.  Suid-Afrika verarm, sy kredietwaardigheid gly.

Hoe vaar die regering met ’n paar tydbeproefde kommunikasiebeginsels?

Kommunikasie is bakpoeier in, nie versiersuiker bo-op die koek nie.

Hoe jou besluit ontvang sal word deur kiesers en belangrike teikengehore is deel van besluitneming – nie ’n nagedagte nie. Jy kan nie swak, ondeurdagte, opportunistiese, onetiese besluite neem omdat jy kan en dan deur ’n beeldpoetser of kommunikasie-department laat “verkoop” nie. Gordhan moes die erns van Suid-Afrika se dreigende rommelstatus aan sy kollegas tuisbring. Zuma, Mantashe en kie beledig ons intelligensie, volgens wye openbare reaksie.

Respek word verdien.

’n Amp verdien respek.  As die bekleër gereeld onwaardig optree, verdwyn die respek –  eers vir die bekleër, later die amp en uiteindelik vir die land met daardie stuurman.  Iemand wat volgens die openbare mening, persoonlike beskerming (teen vervolging), verryking vir homself, familie en lojale ondersteuners belangriker ag as sy grondwetlike plig, staatsinstellings manipuleer en poortbewakers met lakeie vervang, verloor daardie respek.

Elke politikus word bygekom met die satiriese, snydende pen en kwas van die joernalis, ontleder en spotprenttekenaar.  As hulle jou uitbeeld waar jy die regstelsel verkrag, teen die Nobelprys-standbeeld water afslaan, met ’n stortkop en in die sak van ’n familie met die mag van staatskontrakte en kabinetsposte, as ’n deursnit burgers smalende materiaal op sosiale media laai oor jou eskapades en skade aan die land, moet ’n leier en sy party die skrif aan die muur lees.

Geloofwaardigheid word verdien.

Mense aanvaar wat iemand in ’n gesagsposisie sê – totdat hulle jou herhaaldelik ontnugter. Mac Maharaj en Gwede Mantashe het talle koeëls vir Nommer Een gevat, maar kan uiteindelik nie feite weerlê nie. 

Nuusmedia, waarnemers, ontleders, opposisielede het argiewe, soekenjins, opnames, geheues en ingebore skeptisisme.  Hulle vergelyk jou verklarings, standpunte en optrede met die verlede, resultate en ander menings.  Hulle maak gevolgtrekkings en lewer uitsprake. “Buite konteks aangehaal?” Oppas, daar is opnames.  Maak seker wat jy dink voordat jy lees wat jy sê!  As jy in ’n gat is, hou op grawe.

Kommunikasie begin in die huis

Lig waar moontlik eers jou eie mense in voordat jy die wêreld vertel.  As iets negatiefs gebeur en personeel, party en belangegroepe hoor dit eerste, sal nuusdekking daaroor jou geloofwaardigheid bevestig.  As jy swyg en dit lek uit, bly jy op die agtervoet.  Personeel en kollegas is óf ingeligte, betrokke ambassadeurs óf oningeligte, onbetrokke kritici.

Voorbeelde?: die Gupta-landing op Waterkloof met talle weersprekende woordvoerders, Nkandla se ontkenning, arrogansie, blaam, feëverhale, kapitulasie en skerp teregwysing in die Konstitutisionele Hof en Des van Rooyen se aanstelling wat die Kabinet se wind uitgeslaan het.

Kommunikasie is ’n leierskapsvaardigheid

Die beste adviseurs, woordvoerders, agentskappe, gekoopte reklame, media en joernaliste wat ingebed is, kan jou uiteindelik nie teen jouself beskerm nie.  Daar is situasies wat jy self moet hanteer.  ’n Leier kan kommunikasie nie abdikeer of delegeer nie.

Jy hoef nie ’n gepoleerde, gesofistikeerde spreker met ’n Oxford-uitspraak te wees of ’n toespraak foutloos voor te dra nie. Die ware jy, jou beginsels, waardes, voornemens, eerbied, persoonlikheid, oortuigings sal na vore tree.  In ’n wêreld van veins, plastiek en voorgee is “eg”, “opreg”, “outentiek” hoog in aanvraag.

Die pad na kommunikasieleierskap begin met interaksie en uitruil van inligting.  As jy die vaardigheid beoefen en jou woorde en dade strook, verwerf jy geloofwaardigheid en die vermoë om mense te oorreed.  As jy kommunikasie, gebou op jou innerlike substans, bemeester het, kan jy uiteindelik as ’n leier mense inspireer.  Dit is makliker om ’n land te lei met inspirerende kommunikasie as met amptelike dekrete sonder morele oortuiging. 

Kommunikasie is tweerigting

Stakings, betogings oor dienslewering, e-tol, klasgeld, standbeelde, omgewingskwessies en ander brandpunte het byna altyd iets met swak kommunikasie te doen.  Armes onthou politieke beloftes.

Openbare raadpleging gaan nie net oor toesprake, verklarings en koerantbylaes nie.  Inbelsentrums is net so nuttig as die bekwaamheid en verantwoordelikheid van die personeel en, belangriker, die prosesse, politieke wil en verantwoordbaarheid van die staatsdepartment daaragter.

Ons het twee ore en een mond – dus minder praat, meer luister. Luister jy om werklik te verstaan of is jy klaar besig met ’n slim teenantwoord in jou kop? Minder spog en belowe, meer doen en ondernemings nakom.

Berei voor vir krisisse.

’n Regering en organisasie moet gebeurlikheidsbeplanning doen – veral as dit goed gaan.  Wat is die risiko’s?; Wat is die kans dat dit sal gebeur?’ Wat sal die impak wees?; Hoe vermy, versag of oorleef ons dit?  Daarsonder is jy onvoorbereid vir ’n krisis of ramp (mens, natuur of geld), skarrel jy en verloor jy die vertroue van dié wat jy moet lei. 

Moenie “wolf wolf” skree, ’n werklike krisis ontken of wegpraat nie.  Blaam en sondebokke is nie ’n oplossing vir ’n ware leier nie.  “Rassisme”, “kapitalisme”, “media-monopolieë” (almal wit en kolonialisties) kan net só lank jou slaansak wees.  (Vir regerings voor 1994 was dit o.m. die media en kommunisme.)

As die krisis kom, vertel die volle waarheid so gou as moontlik en feite soos dit ontvou.  Gebruik een, gesaghebbende, geloofwaardige woordvoerder vir konsekwente inligting. Hoe meer monde, hoe meer verwarring. Wees beskikbaar, toeganklik, reageer.

’n Regering, politikus is handelsmerke

Handelsmerke is nie net kommersiële kommoditeite nie. ’n Regering en ’n politikus word ook gemeet aan kenner Thomas Gad se vier handelsmerkeienskappe: Wat is jou produk en diens?; Hoe maak jy die groei en ontwikkeling van mense moontlik?; Wat is jou waardes wat dieper strek as mag en geld?; Ervaar mense jou positief en konstruktief?

As jy met al vier goed vaar, het jy ’n stewige handelsmerk, geloofwaardigheid, lojaliteit, steun.  Kiesers glo en vergewe jou as jy droogmaak, verskoning vra en die fout regstel. Die omgekeerde is ook waar! Onthou, arrogansie is een van die moeilikste etikette om af te skud as jy dit eers het.

Verskoning, vergifnis

’n Opregte, nederige, ongekwalifiseerde verskoning bied die beste kans op vergifnis. As jy nie die erns van jou misstap besef of erken nie, jou burgers, eie kiesers herhaaldelik teleurstel, die grondwet nie respekteer nie kom die slotsom jy is nie geskik vir die amp nie.

Gemeet aan kommunikasiebeginsels, vaar die Zuma-regering swak.  Tog het hy steeds meerderheidsteun veral in die plattelandse hartland.  Sy party-boodskap en -masjien oorreed/intimideer baie: die DA sal apartheid terugbring en jul staatstoelaes wegneem; die voorvadergeeste of die Opperwese sal met julle afreken as julle verkeerd stem; die ANC het jou polities bevry en gaan jou ekonomies bevry.

Gewigtige stemme van kritiek in eie geledere word egter meer en harder, weersin en verset laai op.

’n Regering se kommunikasie is onlosmaaklik verweef met sy besluite en optrede. As jy ’n land wil lei, sy burgers wil saamsnoer, sy potensiaal wil ontsluit en internasionaal posisioneer, as jy (weer) verkies wil word, moet jy die dienslewerings- en kommunikasiekuns bemeester……… éń sorg dat jou oggend- en aandpraatjies ooreenstem.

Pieter Cronjé was kommunikasiedirekteur van die Onafhanklike Verkiesingkommissie in 1994 en van Stad Kaapstad.  Hy is ’n onafhanklike kommunikasiekonsultant.