
Johann Kriegler praat oor die verkiesing van 1994
,,7 Mei is ’n roetine-verkiesing. Ons het ’n lang pad geloop. Mense raak nou ontsteld oor belastering met teksboodskappe. In 1994 was ons bekommerd dat ons mekaar graf toe stuur met ’n AK47.”
Twintig jaar later vertel Regter Johann Kriegler (81), destyds voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), die merkwaardige verhaal op sy stoep in Parkview, Johannesburg: die noue ontkomings, bomenslike poging, ,,donker ure” en die volkswil wat geseëvier het, ondanks gebreke. Dis allermins ’n ,,ek”-onderhoud, hy praat beskeie oor ander, almal se bydrae.
Hy aanvaar aanvanklik die pos in die waan dit gaan om die Verkiesingshof – en ontdek eers later dis die voorsitterskap van die hele OVK. ,,Ek was met vakansie aan die Suidkus toe die minister bel. Die see en die kinders raas, die telefoonlyn is onduidelik. Op pad Kaap toe kom ek eers my fout agter – maar ek sou dit sonder huiwering weer doen!”
Kenners het gesê ’n verkiesing in 4 maande is waansin, maar 27 April 1994 was in beton gegiet. ,,Ons gaan stem, dit gaan krom en skeef wees. Dis nie ’n Europese verkiesing of ’n ordelike, pragtige Skandinawiese proses nie. Dit gaan ’n Afrika-verkiesing wees. Ons gaan onder bome en in die buitelug stem, maar ons gaan stem,” het Kriegler die politieke noodsaak en die volk se afwagting verwoord – die twee kragte wat die OVK bemagtig het om die onmoontlike te vermag.
Een aand half-twaalf antwoord hy sy foon: ,,Kriegler.”
,,Regter, dis Mandela hier. (Hy skakel self.) Ons begryp u probleme en steun u.” Daarna het mnr. Mandela hom altyd op Afrikaans gegroet.
,,Ondanks oordrewe optimisme by sommige partye, was die ANC die enigste werklike perd in die wedren en ’n eenperdwedren is makliker om te beoordeel.”
“Die 1994 verkiesing het geslaag ondanks tekortkominge, vanweë die politieke wil om dit te laat werk. Suid-Afrikaners sou nie die uitslag aanvaar het as dit nie hul wil weerspieël het nie. Die onderhandelde evolusie was ryp, die uurglas het begin leegloop en die verkiesing was die laaste kans om vrede te smee. Ons was saam in die drukgang en ons moes daardeur beur na groener weivelde.”
In Januarie 1994 besluit die OVK hy doen alles met die vaste oortuiging dat die verkiesing gáán werk. ,,Dit was ons interne dryfveer en selfvervullende profesie. Ons voet was in die stiebeuel en ons moes ry. Hierdie was die geboorte, aborsie was ondenkbaar.”
Die OVK was verantwoordelik vir die verkiesing, maar sonder beheer oor die veiligheidsmagte wat vrede moes verseker. Die OVK moes die regering se hulp vra toe pres. Lucas Mangope van Bophuthatswana en hoofminister Mangosuthu Buthelezi deelname en OVK-toegang tot hul grondgebied geweier het. Die OVK-afvaardiging is vooraf in die KwaZulu Wetgewende Vergadering georkestreerd verneder. Die onttroning van pres. Mangope en die regering se afkondiging van ’n noodtoestand in Natal het die verkiesingsproses daar oopgestel – maar bitter laat. Die IVP se toetrede ’n week voor die verkiesing het die OVK reuse hoofbrekens besorg.
,,Die Suid-Afrikaanse Weermag het ons deurgaans bygestaan en sonder hulle sou ons nooit die ekstra stemmateriaal kon versprei nie.”
Was hy ooit bang? ,,Nee, maar daar was donker ure.”
,,Die eerste was toe die OVK moes trek uit die Wêreldhandelsentrum in Kempton Park omdat dit ontoereikend was. Die tweede was in Februarie 1994 toe ons ontdek die lys stemlokale van die Department Binnelandse Sake is onbetroubaar en ons moet van nuuts af geskikte stemlokale vind.
,,Derdens hoor ons in Maart daar gaan twee stemme wees – een vir die nasionale en een vir die provinsiale wetgewer pleks van net een vir albei. Die stem- en telproses word daardeur verdubbel en die vereistes vir personeel, stem- en telbriewe en -lokale en natuurlik logistiek word dramaties verhoog. Die vierde was toe die Oos-Rand, ’n kruitvat, se stembriewe op stemdag twee opraak en noodvoorrade gestuur moes word. Die vyfde was toe stemtellers staak vir meer geld en bemiddelaars moes bontstaan.
,,Die sesde was toe die Nasrec-telsentrum, met bykans 20% van die land se stemme, die Saterdagmiddag ná die stemmery nog nie eens begin tel het nie –sekere prosedures is nie (en kon nie) gevolg word nie. Ek gelas toe (en die OVK bekragtig later die middag) dat besware aangeteken word, maar dat die telproses onmiddellik begin. Die sewende was toe ons agterkom ons datasentrum is binnegedring en sommige partye se stemtotale is gedokter. Die sentrum is afgesluit, spanne rekenmeesters het toesig gehou en getalle reggestel. (Die skuldige(s) is nooit gevang nie.)
,,Die agtste donker uur was op 5 Mei, die dag voor die verkiesingsuitslae aangekondig is. Al die groot partye, die ANC, NP, IVP en DP het geëis die OVK moet stemgetalle aanpas weens beweerde ongerymdhede of hulle sou die uitslag met regsaksie vertraag.
My antwoord?: ,,Moenie kom praat oor honderdduisende dubbele stemme nie. Bring my die getuienis van een. Tot vandag het niemand, geen deskundige, politikus of joernalis getuienis voorgelê oor konkelwerk wat die verkiesing beïnvloed het nie – niemand.”
Nugter voeg hy by: ,,Ek dink nie die verkiesing was sonder konkelwerk nie. Geen verkiesing is nie, maar daar was ongetwyfeld geen noemenswaardige konkelwerk nie. Daaropvolgende verkiesings het die ’94-stempatrone beaam. Dis ‘n wolhaarstorie dat die politieke partye die uitslag ,,bekook” het. Dosyne mense sou betrek moes word by so ’n slenter en tot vandag is daar geen getuienis nie.”
Min mense besef êrens in die oorgangsproses het pres. F.W. de Klerk eintlik nie meer geregeer nie en pres. Mandela nog nie. Die OVK moes die land se leisels vashou.
Oor die komende verkiesing: ,,Daar is ’n gebrek aan leierskap op ‘n breë vlak. Ons is verdeel, verwar, ontnugter.
,,Een les wat ons opnuut moet leer: as jy die skeidsregter aanval, raak die spel onmoontlik. Aanvaar sy onkreukbaarheid en beslissings sonder teëstribbeling anders kan jy nie jou deel van die spel speel nie. Dit is onrusbarend dat mense jag maak op die verkiesingskommissie. Verloorders blameer die verkiesingsadministrasie vir hul eie politieke tekortkominge. Dit is die tweede goedkoopste kaart in SA ná die rassekaart.
,,Dieselfde geld vir die regbank. As jy eers die regbank nie vertrou nie, is die regsorde in sy peetjie en dan is ons gedoem.”
Hoe het die 1994 verkiesing hom verander? ,,Onherroeplik. Ons was soos mense wat ’n veldslag saam deurgegaan het, soldate met post-traumatiese stressindroom, ons het saam deur die dorsland getrek. Ek het jare lank nagmerries gehad.”
,,Die OVK het my geleer om mense te versoen, dwarstrekkers op die gemeenskaplike eerder as verskille te laat konsentreer. My ,verkeerde’ aanstelling was ’n bestiering, want dit het vir my ’n nuwe loopbaan geopen – verkiesingsfanatikus wat die wêreld sien op ander se koste!”
Pieter Cronjé was kommunikasiedirekteur en woordvoerder van die OVK in 1994.