
Kundige uittog, gevolge en geleenthede
Versoek van Wilna Matthee, RSG:
“Ek wil nog altyd met jou ‘n onderhoud doen…. Gedink miskien iets in die lyn van die uittog van kundiges uit maatskappye wat die afgelope jaar onder hulle topstruktuur moes sny. Wat doen die kundiges nou? Wat doen die maatskappye as hulle nou ontslae raak van (duur) ervare topbestuur…. Wie ly daar onder. Weet nie of dit iets in jou kraal is nie. Ons kan een of ander tyd bietjie brain storm daaroor.”
Oorsake
Maatskappye word oorgeneem, gekoop, smelt saam, sluit, gelikwideer, skaal af, verander hul sakemodel, kort personeel in, aftredes, siekte, dood en afdanking.
Afdanking
Summiere afdanking is baie meer algemeen in ander lande soos die VSA as hier. Die term “you’re fired” is soms ‘n onmiddellike werklikheid – veral met heel senior personeel. Hulle word dan onder sekerheidsbegeleiding toegelaat om persoonlike items uit die kantoor te verwyder en, ná oorhandiging van hul sleutels, toegangskaarte en parkeerskyfies uit die gebou begelei. Dit is o.m. vir groot misstappe, optrede wat die maatskappy skade kan berokken of mededingers bevoordeel.
As ‘n topamptenaar besluit om vir die opposisie te gaan werk, is hierdie prosedure ook sy of haar voorland. ‘n Kontraktuele beperking dat hulle ‘n jaar of meer lank nie dieselfde of soortgelyke werk mag doen nie tree dan in werking en dit gebeur dat so iemand ‘n jaar (selfs betaald) tuis sit voordat hy/sy met ‘n nuwe loopbaan of werk kan begin. Dit lei soms tot hofsake.
“Konstruktiewe ontslag”
Senior mense kan ook “uitgewerk” word deur hul werksituasie eenvoudig ondraaglik te maak met ‘n nuwe baas, gereelde foutvindery en moeilike, selfs onredelike opdragte en vereistes om hulle te laat struikel. Soms kan selfs ‘n persoonlikheidsbotsing met ‘n kollega of baas hierdie gevolge hê. Verplasing of “herontplooiing” is nog maniere om sake vir die slagoffer so warm te maak dat hy of sy eenvoudig bedank.
Gevolge
Die onderneming verloor kundigheid, ervaring, wysheid, insig “Hoe lank neem dit om dertig jaar se ondervinding op te doen?”
Instusionele kennis gaan verlore, daar is al groter druk op ‘n kleiner wordende groep kundiges, hulle stres, van hulle knak onder werksdruk. Die maatskappy kontrakteer van sy take uit of kontrakteer tydelike werknemers of stel konsultante aan
Hoe beplan jy daarvoor en bestuur jy dit?:
Doen opvolgbeplanning, ontwikkel belowende talent. Voor die kundige loop, verseker ‘n behoorlike oorhandiging, vaslegging van kennis en werkwyses. Word ‘n lerende organisasie waar personeel behoorlik ingelyf word in die aard, kultuur, werkswyse, waardes en etiek van hul nuwe werkgewer, waar hulle funksionele opleiding kry om hul vakgebied-vaardighede te verbeter, waar hulle behoorlik bestuur en hul prestasie beoordeel en erken word en waar hulle mentorskap van ervare kollegas of buitekundiges kry. (Die ou tradisionele werkswyse waar mense in verskillende afdelings van die maatskappy ervaring opdoen, is aan die afneem – werksdruk en personeelomset werk daarteen).
In bekwame maatskappye volg bekwames bekwames op bv. Michael Jordaan se beplande ENB-uittrede was geen verrassing nie en die bank en sy opvolger voorbereid.
Uitkontrakteer
As jy steunfunksies of aktiwiteite (verskieslik nie kernbesigheid) uitkontrakteer aan eksterne diensverskaffers, MOET jy interne kundigheid behou om behoorlike opdragte aan die diensverskaffers te gee, hul diens se gehalte, prys en lewering te bestuur, steeds die maatskappye se relevante strategie te dryf, asook om die skakel tussen die diensverskaffer en die onderneming te bly vir interaksie na binne. Uitkontraktering beteken NIE abdikasie nie.
Normale sake versus ‘n ekstra las
Daar is baie wetlike, regulatoriese en maatskaplike eise en pligte vir maatskappye. (bv. Die King-vereistes) Probeer om dit deel van die normale sakeproses en bedryf te maak. Anders word dit ‘n ekstra las wat, benewens jou gewone werk, nog êrens ingedruk moet word, bv. beroepsveiligheid, omgewingsbestuur, nakoming, deursigtigheid, kommunikasie, raadpleging, gebeurlikheidsbeplanning, risikobestuur, ouditvereistes.
Aflegging
Wanneer jy personeelgetalle móét inkort, praat net 10% oor die maatskappy en finansies en 90% persoonlik oor die proses, terme en hoe jy mense kan help met ‘n nuwe lewe buite. Hanteer die proses nie net binne die arbeidswetgewing en met bekwame spoed nie, maar veral met RESPEK en WAARHEID. Dié wat die aflegging oorleef, voel dikwels ook soos “slagoffers”. As iemand uit hul midde wat hulle gerespekteer het, etiekloos en ongevoelig behandel word, skaad dit hul geloof in die maatskappy se leiers en kultuur. Afleggings en hoe personeel behandel word as hulle moet loop, is die ware toets vir ‘n maatskappy se integriteit, waardes en etiek – en sy hoofde. Oop, eerlike KOMMUNIKASIE is van sleutelbelang.
Korter, bekwame afleggingsprosesse is baie beter as uitgerektes. Almal weet naderhand op wie die byl gaan val en ‘n stigma ontwikkel.
Leierskap
Dit is tegelyk ‘n gebrek en kernvereiste in vele regeringsorganisasies en maatskappye. (“‘n Vis vrot van die kop af”) Sonder leierskap is daar gewoonlik nie goeie mensbestuur nie en word die woorde “mense is ons belangrikste bate” hol en onwaar. Leiers is nederig, dienend, beslis, het moed en tree volgens maatskappy- en persoonlike waardes op. (Mandela se voorbeeld!) Leierskap word op alle vlakke vereis, maar moet van bo gelei word met ‘n waardegedrewe-kultuur, werkswyse, besluite, optrede. Ondernemings moet hul handelsmerkwaardes sigbaar uitleef.
Ouderdom
Ouderdom is nie ‘n syfer nie. Dit gaan oor iemand se vermoë om die werk te kan doen, waarde toe te voeg, ‘n bydrae te lewer, emosionele intelligensie, wysheid, insig, ervaring. Gesondheid, fiksheid en energie kan belangrik wees, maar kyk watter monumentale bydrae lewer selfs die erg gestremde Stephen Hawking! Die “silwer jakkalse” het soms meer emosionele stamina as energieke, jong kollegas en kan in ‘n kort tyd relatief meer waarde toevoeg, hulle kan waardevolle mentors wees, tuis of deeltyds bly werk. Progressiewe maatskappye neem jong éń ouer mense in diens!
“Sestig is die nuwe dertig!”
Politiek, Regering, Openbare Ondernemings
Baie politici is ongemaklik met professionalisme, hulle soek bondgenote onder amptenare, daar is kader-ontplooiing en arbitrêre politieke besluite en inmenging in professionele en wetlike prosesse. Die beste mense wat elders werk kan kry, loop gewoonlik. Dikwels word kosbare kundigheid bewustelik uitgedryf. Dit neem lank om ‘n doeltreffende, kundige, goed-funksionerede regeringsliggaam op te bou. Dit neem baie korter om dit af te takel. Dan ly dienslewering, kontinuïteit, stabiliteit en funksionaliteit daaronder. Politici behoort te lei, nie te bestuur en te doen nie. Deur dienslewering te verpolitiseer, word sommige personeel en inwoners vervreem.
Differensiasie, kliëntediens
Bemarking gaan oor “differensiasie”: Wat maak jou onderneming beter as en/of anders as die mededingers?” Prys en produk is faktore, maar diens en verhoudinge met die klant of kliënt is bepalend. Maatskappye moet hierin en in deeglike opleiding van personeel om met kliënte te werk, belê. Ervare kundiges besef dié waarheid en kan help hiermee. Die maatskappy moet bemarking- en kommunikasie-gedrewe wees, en in menseverhoudinge binne en buite die maatskappy belê. Maak van ‘n koper, ‘n klant, daarna ‘n ondersteuner en ambassadeur.
Wat maak kundiges as hulle loop?
As iemand dit beplan het, finansieel goed versorg is en nou reis, rus, belangstellings uitleef en meer tyd saam met die gesin en vriende bestee, goed en wel. Dikwels is dit onbepland. Moenie oorhaastig ‘n neseier belê in iets waarvan jy nie kennis of ervaring het nie! Beplan ‘n opwindende, vryer, interessanter lewe deur jou kennis en ervaring te deel.
Dit is ‘n nuwe bedeling en ervaring vir lewensmaats as een ‘n beroepsleeftyd lank tuis was en die “uitgetredene” nou huis- as kantoorruimte deel!
Stel ‘n nuwe kort CV op, ontgin en benut jou netwerk, leer by ander wat reeds deeltyds werk, konsulteer. Kry ‘n nuwe doel en nuwe sin in die lewe, maak voorsiening vir langer lewensverwagting, ploeg jou kundigheid onbevange terug, geniet die afwisseling. Bly ingelig, belê in kundigheid. “Lifelong learning is lifelong earning.” Skryf? Klasgee?
Opsomming
1. Bestuur, koester, beplan jou mensbates. Leiers koester mense.
2. Innoveer, ontwerp, beplan die toekoms. Bly ingelig, leer en nuuskierig.
3. Daar is drie kern-pilare: intelligensie, emosionele intelligensie, aanpasbaarheid/innovering/emosionele stamina
4. Kry, kweek, bevorder leierskap, integriteit, etiek, waardes
5. Wees bemarking-/kommunikasie-/
klant-/diens-gedrewe
6. Kry kundige advies en benut die kundigheid rondom jou.
Pieter Cronjé
Stellenbosch
18 Julie 2016