Kuns open geslote Russiese deure, smee vriendskap
Met net ‘n skildery onder die arm en die welwillendheid van ‘n handjievol Russiese vriende het ‘n Suid-Afrikaanse lugvaartkunstenaar en voormalige vlugingenieur, tot in die hart van ‘n eksklusiewe, geslote Russiese lugmagbasis en museum gevorder. Dit is iets wat selfs hoë Westerlinge nog nie kon regkry nie.
Tiro Vorster is gul ontvang, vir sy kuns vereer en met Russiese geskenke oorlaai om ‘n Rusland-hoek in sy huis in Van Riebeeckshof in Kaapstad te skep. Terug in Suid-Afrika vier Tiro se alma mater, die SA Lugmag, sy eeufees.
Sy olieverf-skildery van die ikoniese, Russiese strategiese bomwerper, missieldraer en martieme verkenningsvliegtuig, die Tupolev Tu-95, NAVO-kodenaam “The Bear”, het nou ‘n ereplek in die Russiese Museum vir Langafstand-lugvaart by Ryazan, sowat 200 km suidoos van Moskou. Die skildery se titel is “Die Magtige Beer Op Patrollie.”
“Een van my grootste lewensideale is verwesenlik,” sê Tiro. Klassieke vliegtuie inspireer my en die Tu-95 staan uit. Om aan die Beer en ander indrukwekkende Russiese militêre vliegtuie te kon vat en met die vlieëniers te praat, die hartlikheid van my ontvangs en die erkenning van my kuns is ‘n hoogtepunt in my skilder-loopbaan.”
Tiro, ‘n voormalige vlugingenieur in die SA Lugmag, se skilderye van vliegtuie is wêreldbekend onder lugvaartkunstenaars en -liefhebbers. Hy is een van ‘n uitgelese handjievol in die internasionale lugvaartkuns: ‘n lewenslange lid van die prestige Amerikaanse Vereniging van Lugvaartkunstenaars. “ASAA” verskyn agter sy naam op sy skilderye. https://www.asaa-avart.net/cb-profile/tirovorster
Hy is ook deur die SA Lugmag vereer vir sy werk. http://www.pilotspost.com/arn0000397
Die “Beer”, ‘n simbool van die Koueoorlog, inspireer Tiro al dekades. Die Russiese lugmag het dié kragtige, vinnige turboskroef-vliegtuig in 1956 in diens gestel. Nou, ‘n ongelooflike 64 jaar later, met modernisering van die wapenstelsels, enjins en elektronika, vlieg 55 van dié vliegtuie nog en gaan nog aanhou tot 2040! ‘n Onbekende getal van hierdie vliegtuie met ‘n reikafstand van 15 000 km is baie onlangs op hul vlug na die noord-weste van Skotland deur Britse Typhoon-vegters onderskep en gedwing om van koers te verander.
“My droom was om die Beer van naby te sien en te skilder. Twee jaar gelede het die ideaal begin vorm aanneem toe ek vir dr Elina Komarova Tagar, ‘n mediese dokter betrokke by militêre veterane en geskiedenis, en lid van die Russiese Klub in Kaapstad ontmoet het,” verduidelik Tiro.
“Ek het haar vertel van my liefde vir Russiese vliegtuie. Ons is vandag hegte vriende. Sy het my voorgestel aan haar Russiese netwerk. ‘n Betekenisvolle ontmoeting by my huis was dié met Vader Konstantin Tatarinsjef, wêreldwye hoof van die Russies-Ortodokse uitreikaksie onder Christen militêre veterane en self ‘n voormalige bomwerper-vlieënier.
“In Desember 2018 het ek besluit ek gaan die Tupolev Tu-95 skilder. Ek het die vliegtuig goed geken, maar bykomende intensiewe navorsing en potloodsketse gedoen voordat ek in Januarie 2019 die doek op die esel gesit het. My plan was om die skildery aan Rusland te skenk met die hoop dat ek die vliegtuig van naderby kon sien en sy vlieëniers ontmoet. Natuurlik sou ek al my verfkwasse gee vir ‘n vlug in een!,” skerts hy.
Vir lugvaartkunstenaars en -versamelaars moet elke militêre, tegniese en historiese detail van hul vliegtuie honderd persent korrek wees nog voor hulle met die agtergrond begin.
Terwyl Tiro geskilder het, het reëlings vir die reis na en oorhandiging in Rusland begin. Pogings om steun van die SA regering te bekom om toegang tot die Russiese weermag te kry, het deur die Departemente van Verdediging, Buitelandse Sake sowel as Kuns en Kultuur geloop, dog sonder welslae of steun. Die Suid-Afrikaanse Ambassade in Moskou was baie behulpsaam.
“Ek het met slegs hoop en geen waarborg met my skilderye op die vliegtuig na Moskou geklim – as deel van ‘n Suid-Afrikaanse toergroep wat verskeie dele van Rusland besoek het. Dit was omtrent ‘n proses om die kosbare skildery veilig toe te draai en vlugpersoneel te oorreed om dit in die kajuit toe te laat. Een struikel op ‘n vliegtuigtrap kon die hele sending gekelder het!”
Russiese vriende van Tiro en dr. Komarova-Tagar sou uiteindelik die deurbraak maak om toegang tot die Ryazan-basis en -museum te kry.
Tiro het een van die toerdae gebruik om na Ryazan te reis. Groot was sy verbasing toe hy as eregas by sy hotel in Moskou gehaal word met ‘n mini-konvooi van swart motors. Vader Konstantin, Dr Joeri Skoebkou van die Moskou-intituut vir Afrika-studies en kunskenner, en ‘n Igor Zjidarkin, ervare tolk en lid van die Angola-veteranevereniging, het hom na Rayzan geneem.
Daar is die geselskap ontvang deur Luit.-genl. Oparin Mikailowietsj, gewese bevelvoerder van die Russiese lugmag se Langafstandsvliegeenheid, voorsitter van die veteraneverenging en vise-president van Tupolev se konstruksie-afdeling, asook die museum-direkteur, vlieëniers van die Beer en ander offisiere.
“Hierdie boerseun van Middelburg in die Kaap kon museum-stukke sien wat Westerse oë nog nie beskore was nie en ek kon selfs met koptoerusting voor die instrumentpaneel van die Tu-16 ‘Badger’gaan sit. As lugmagingenieur op Suid-Afrika se Shackleton-maritieme verkenningsvliegtuie en Alouette-helikopters het ek sommer tuis gevoel.”
Die skildery is in die museum onthul. Daarna is Tiro en sy geselskap na die buitelug-museum geneem waar ‘n versameling Russiese bomwerpers ná die Tweede Wêreldoorlog uitgestal word.
“Jy staan nederig en dankbaar voor hierdie reuse wat die beste ontwerpvernuf van die formidable Russiese lugvaartbedryf en innovering verteenwoordig. Alles wat ek oor jare in boeke of op televisie gesien het, was ewe skielik so werklik. En hier was die vlieëniers wat vir my, deur die tolk, vertel van hul vliegtuie se eienskappe en hul wedervarings. Dis hemel vir ‘n lugvaartkunstenaar.”
Daardie aand moes Tiro ‘n trein na St Petersburg haal, sy toergroep se volgende bestemming. Met swaar verkeer terug na Moskou het hy dit letterlik in beseringstyd gemaak.
As jong seun op Middelburg, Kaap, het Tiro Vorster al voor skool vliegtuie op Sunlightseep-toedraaipapier geteken. Lokomotiewe en trekkers – alles met enjins, suiers, pype, aste en het hom geboei.
“Ek het die biblioteek gefynkam vir boeke oor vliegtuie. Ek het 2,5 km stasie toe gestap om lokomotiewe te skets en by die trekkers op die landbouskou geboer. Tegniese detail het my betower. Vinnige sportmotors is nog ‘n liefde van my.”
Sy pa was ‘n horlosiemaker en geweersmid, sy ma ‘n boekhouer. In sy kamer het hy gedroom, geteken. Hy kon saam met sy maats modelvliegtuie bou, verf en vlieg. Tiro het vir sy juffrou ‘n geel kruiptrekker geteken. Hy bêre nog haar dankie-briefie.
Hy het sy eerste groot vliegtuig eers op sestien gesien en net daar geweet wat hy wil doen. Hy is SA Lugmag toe en het 4 500 ure vliegure aangeteken.
Sy kinderboeke oor vliegtuie staan in sy biblioteek, langs versamelaarstukke met handtekeninge en persoonlike boodskappe van bekende vlieëniers, bevelvoerders, generaals, makkers en bedryfsleiers. Tiro Vorster se lugvaartkuns het deure na lugvaart se hoogstes en grootstes oopgemaak – sonder om op protokol of range staat te maak. Dit was stille ambassadeurskap vir Suid-Afrika, vir die SA Lugmag: agter ystergordyne en ondanks militêre sanksies teen sy land.
“My kuns het ongelooflike geleenthede geskep. Ek het in 1984 vir die hoof van die Amerikaanse lugmag ‘n kunsafdruk van ‘n Mustang P 51 gestuur – sonder verlof en heeltemal teen protokolreëls. Sy handgeskrewe bedankingsbrief is ‘n kleinood. Ek het in 1992 lugvaartkuns van my rolmodel, Keith Ferris, in die Smithsonian Instituut en Pentagon gesien en ook in Pentagon-hoës se kantoor beland.”
Veteraan-generaals en topvlieëniers van die Pentagon, Withuis, Tweede Wêreldoorlog, Korea, Viëtnam, die noordelike bosoorlog ken hom, skryf dankie-briewe: Generaals Dennis Earp, Roelf Beukes, Willem Hechter, Jan van Loggerenberg en Fred du Toit, Lugvisemaarskalk Johnnie Johnson, top Koninklike Lugmag-vegvlieënier in die Tweede Wêreldoorlog, Bob Hoover, die vlieënier vir Chuck Yeager se eerste supersoniese vlug, Oberst Wolfgang Zebrowski, Luftwaffe-held.
Tiro was al Suid-Afrikaanse kunstenaar wat tydens Amerika se Eeufeesviering in 2003 van die Wright-broers se eerste vlug, uitgenooi is om agt van sy werke uit te stal by hul amptelike feesviering – met sy Spitfire-skildery op die uitnodigingskaartjies! Die militêre orkes by Dayton, Ohio, die grootste militêre lugvaartmuseum ter wêreld (meer as 150 vliegtuie binnenshuis uitgestal!), speel twee Afrikaanse liedjies – ter ere van Tiro Vorster wat langs generaals en BBP’s op die podium sit.
Die foto-albums wys Tiro spog of oordryf nie. Sy presiese logboeke, grafieke, berekeninge – uit die kop, met die hand en lank voor rekenaars – vertel hoe hy as vlugingenieur brandstof, vlugtyd, spoed, gewig en dosyne ander meters, hefbome en ligte moes beheer sodat sy Shackleton of Alouette en bemanning veilig kon opstyg, vlieg en land.
Hy was op patrollie of soektogte oor die oseane en in guerilla-oorloë in Namibië, Angola en die destydse Rhodesië – nege “bostoere” van tien weke elk. Hy het makkers verloor en self rakelings ontkom. Hy het noodherstelwerk aan ‘n beskadigde helikopter se stuurmeganisme op die slagveld gedoen met ‘n vyandelike oormag rondom en toe aangedring om self daarin uit te vlieg. Die Pro Merito-medalje teen sy muur saam met baie ander dekorasies bevestig die verhaal.
In 1968 doen sy vlieënier ‘n nag-noodlanding met ‘n helikopter, meters weg van ‘n dodelike donga. Op ‘n ander sending op 11 April 1976 gons die koeëls deur die Alouette-kajuit. Op die grond ontdek hy die brandstoftenk is getref, die lugraam en landingswiel beskadig en die helikopter ondiensbaar.
Tiro en sy vrou Hannatjie, ‘n gewese onderwyseres, se dogter, Tihanna, is ‘n voormalige SA 400 meter atletiekkampioen, musikant, nou fisioterapeut op Mosselbaai. Hulle is net so trots op haar as sy op hulle en haar pa se kuns.
Ondanks al die eer en erkenning, bly Tiro vriend, kunstenaar, kerkman, pa, man – met militêre netheid, maar atleties en modieus uitgevat.
Lugvaartkuns vereis al die vaardighede van ander kuns – perspektief, komposisie, kleur, skaal, diepte, kontras, kwastegniek. Daar is “stillewes” van vliegtuie, in ‘n loods, op ‘n aanloopbaan. Lugvaartkunstenaars moet ook die natuur kan skilder want vliegtuie vlieg oor berge, die see, ‘n landskap en tussen wolke. Daarby moet die vliegtuig en vliegtuie met groot tegniese akkuraatheid en navorsing geskilder word. Die tyd van die dag, hoe die lig val en weerkaats en hoe kamoeflering die toneel beïnvloed is baie belangrik. Een foutjie in die oog van ‘n lugvaartkenner doen afbreuk aan die gehalte van die werk. Dis juis hier waar Tiro ‘n groot voorsprong het – ‘n lewenslange studie van meganika en tegnologie en ‘n loopbaan in en om vliegtuie.
Teen die mure van sy huis, versamelaars en lugmag-basisse hang sy geliefde Shackleton, Spitfire, Mustang P51, Bristol Beaufighter, Cheetah, English Electric Lightning, Lockheed Constellation, Junkers, Rooivalk, Wasp, Albatros, Kittyhawk, Focke Wulf en meer.
“As ek terugkyk oor my lewe, sou ek niks anders wou doen nie. My gesin, kuns en goeie vriende het my lewe verruim en verryk en ek is baie dankbaar. My Tu-95 hang op ‘n ereplek in Rusland.”
Hannatjie is ‘n bobaas-bakster en Tiro ‘n koffie-fynproewer. Ek kuier en merk die stapels boeke, sketsboek en tekeninge op die tafel. Tiro broei. Hy droom nog ‘n skildery, ‘n grote en dalk weer Russies………
*Pieter Cronjé is ‘n oud-joernalis en vliegtuigliefhebber.