Onmiddellikheid

Hoe beïnvloed die onmiddellikheid van tegnologie en nuus leierskap, besluite en optrede?  Dié vraag is opnuut daar ná die terreur in Parys.

Onmiddellikheid is die resultaat van mobiele verbinding met enige gebeure en drama enige plek op aarde – 24 uur per dag.

Suid-Afrikaners het op hul slimfone die bloedbad gesien, die ontploffings en skote gehoor voordat sommige Parysenaars daarsonder geweet het wat in hul stad ontvou.

Sedertdien is daar ’n stortvloed van nuus, ontledings en menings – en militêre weerwraak.  Mense, instellings en regerings stort hul weersin, woede en hartseer uit.  Daar is aandrang uit sommige oorde om ’n “verskroeide aarde”-aanslag teen die Islamitiese Staat te loods.

Die Franse driekleur verskyn op verligte geboue en op mense se profielfoto’s op die sosiale media, kerse word aangesteek en ruikers stapel op by die stedelike slagveld.  Soos die wêreld treur, gaan daar ook stemme op:  Wat van al die ander terreur-moorde en slagoffers elders in die wêreld? IHS Jane’s se Terrorisme- en Insurgensie-sentrum het 1 086 ISIS-aanvalle in verskeie wêrelddele aangeteken – van 1 Julie tot 30 September vanjaarDie daaglikse gemiddelde van aanvalle het gestyg van 8.3 die vorige kwartaal tot 11.8.

Almal wag om te hoor wat leiers soos Hollande, Merkel, Obama en Cameron sê.  Hulle wil hoor wat hulle gaan doen en ook sommer nou.  Van die eise en raad sluit in:  Moenie nog Moslems in jul lande toelaat nie, kry ’n mandaat van die Verenigde Nasies om met ’n gesamentlike militêre mag en die beste spioenasietegnologie ISIS vir eens en altyd plat te vee.

Soos militêre “oorwinnings” in Viëtnam, Irak en Afghanistan getoon het, ontstaan die vraag: as jy eers vernietig het en huiswaarts keer, wat laat jy agter?  Hoe begin jy skiet, wie skiet jy en hoe en wanneer hou jy op?  Sonder leierskap, vermoë, kapasiteit en ’n funskionerede owerheid, ekonomie en gemeenskap is die “ná” dalk erger as die “voor” vir dié wat daar moet woon.  Hierdie is nie ’n pasifisme-argument om niks te doen nie.

Die erkenning dat ons eenvoudig nie weet wat ons nie weet nie, dat ons nie ten volle begryp nie of nie genoeg inligting het nie, frustreer baie. Diegene met eenvoudige oplossings, kits- of klinkklare antwoorde of wat in onsekerheid of vrees smag na duidelikheid, maak oorweging af as weifeling, besluitslooheid en ruggraatloosheid.

In die New York Book Review in Augustus vanjaar skryf ’n anonieme skrywer met diep en wye kennis van die Midde-Ooste in “Die Geheim van ISIS” oor die ongelooflik ingewikkelde, irrasionele en onlogiese totstandkoming en groei van ISIS – gestig deur Ahmad Fadhil, later bekend as Abu Musab al-Zarqawi, wat in 2006 in ’n Amerikaanse lugaanval dood is.

Die skrywer se gevolgtrekking is: “Niks sedert die triomf van die Vandale in Romeins Noord-Afrika blyk so skielik, onverstaanbaar and moeilik om om te keer te wees as die groei van ISIS nie.  Nie een van die ontleders, soldate, diplomate, intelligensie-offisiere, politici of joernaliste het tot nog toe enige diepsinnige verduideliking gebied – selfs by nabetragting – om dié beweging se opbloei te kon voorspel het nie.

“Ons steek dit vir onsself weg met teorieë en konsepte wat nie teen diepe ondersoek staande bly nie.  En ons sal dit nie kan verbeter deur net meer feite te versamel nie.  Dit is nie duidelik of ons kultuur ooit genoeg kennis, robuustheid, verbeelding en nederigheid sal kan ontwikkel om die verskynsel van ISIS te begryp nie.  Vir nou, moet ons erken dat ons nie net met afgryse vervul is nie, maar ook stomgeslaan is.”

In die Eerste en Tweede Wêreldoorlog het bevelvoerders gewag vir boodskappe van die loopgrawe en koerante en die radio sou berig oor wat verlede week of maand gebeur het.  Toe die Amerikaans-geleide magte Irak binnegeval het, het ons televisie-nuusbulletins gevolg om uit te vind wat aangaan.  Beeldmateriaal en onderhoude van joernaliste in die voorste linies het ons bereik via redaksionele oordeel, seleksie en gemodereerde kommunikasiekanale.  Vandag kan jy jou rou nuusvoer kies van enige nuusdiens of enige mens met ’n mobiele toestel enige plek in die wêreld.

Met kitsnuus kom onmiddellike openbare en media-druk om uitspraak te lewer en op te tree.  Daar is die werklikheid van politieke meningsopnames, posisionering en politiekery.  Verkiesingsveldtogte verhoog die koors.  Enige tydsverloop of lugleegte wat ’n regering of leier laat, word gou gevul met gerugte, menings, standpunte, haatspraak, eise en veldtogte.  Hoeveel ruimte en tyd is daar vir ’n leier in die “vrye” wêreld om die feite, menings, advies, keuses, optredes en die gevolge – bedoeld en veral onbedoeld – te oorweeg?

Dit illustreer hoe moeilik dit vir politieke leiers en hul woordvoerders geword het in ’n slimfoon-tydvak.  Die openbare jurie moet Hollande, Merkel, Cameron en Obama se optrede in die huidige turbulensie nog beoordeel.  Politici moet waak teen die gevaar en risiko van ondeurdagte besluite sonder feite of tyd om te raadpleeg.  Hul optrede moet terselfdertyd vertroue en ’n gevoel van beskerming by hul burgers inboesem.

Ná 9/11 was George Bush se benadering om “die vyand uit te rook” en was “wapens van massa-vernietiging” die slagspreuk wat militêre optrede moes regverdig.  Die druk van onmiddellikheid het gelei tot verkeerde besluite as gevolg van ’n opwelling van patriotisme en vergelding.  Die gevolge was sterker anti-Amerikaanse en –Westerse sentimente – ’n teelaarde vir radikalisme, fundamentalisme en terreur.  By die terreur van die terreur kom nog die ontsenuende, totale vreesloosheid van hierdie soort terroris op sy of haar selfmoordsending.

Die Parys-aanvalle beklemtoon hoe moeilik dit is om dikwels botsende belange te versoen.  Daar is geen ruimte vir foute nie, maar ook geen duidelike riglyne oor hoe om te reageer en op te tree nie.  Optrede vereis koelkop-leierskap en –rede, maar ook heelwat geluk. Die eindresultaat sal steeds sommige tevrede stel en ander polariseer.

Maak jy ’n fout, sal die geskiedenis jou hard oordeel – Bush en Tony Blair is voorbeelde.  Obama was gelukkig dat die intelligensie oor Osama Bin Laden korrek was.  As die Amerikaanse spesmagte onskuldige mense laat sterf het, sou dit ’n albatros om Obama se nek gebly het. 

Suid-Afrikaners ken die gruwel van terrorisme – gepleeg deur die bevrydingsbewegings wat nou regeer, regse groepe en PAGAD. Nood-, mediese en sekuriteitsdienste het geweet wat om te doen.  Is Suid-Afrika gereed as ons dit êrens in die toekoms weer ervaar?  Is die gebeurlikheidsplanne reg en geoefen?  Sal goed-funksionerende nooddienste, die polisie, weermag en ander rolspelers die president die nodige kundigheid, ervaring en vermoë bied om die gekose of noodsaaklike optrede uit te voer?  Druk en krisisse wys gewoonlik – en te laat – die krake in ’n stelsel.

Hoe beïnvloed die onmiddellikheid van nuus leiers, leierskap, besluite en optrede – veral in ’n krisis soos Parys?

Pieter Cronjé was kommunikasiedirekteur van die Onafhanklike Verkiesingskommissie in 1994 en Stad Kaapstad en tans onafhanklike konsultant.