Pak jou reistrommel vir ’n onvoorspelbare wêreld

Book

“Meneer, Juffrou, hoe gaan ek saam met tien mense en vier robotte werk?”

Leerders vra soms strikvrae soos dié. En: “Watter werk moet ek gaan doen?”

’n Antwoord: ’n Besigheid vir ’n probleem of behoefte wat nog nie bestaan nie; wat jy van jou slimfoon kan bestuur; sonder groot belegging in kantore of toerusting en wat jy vinnig kan laat groei en verkoop. As mededingers jou bloudruk steel, belê jou geld in die volgende sakegeleentheid.

Die versnellende ontwrigting van inligtings- en biotegnologie, sowel as van klimaatsverandering, word beskryf in Yuval Noah Harari se boek 21 Lessons for the 21st Century. Moet ons hier die bronverwysing verstrek?  Ideologiese modelle soos sosialisme, kommunisme, kapitalisme en demokrasie bevredig nie meer die mensdom se behoeftes nie. Die mens is op reis en op soek.

Masjiene en robotte kan herhalende werk goedkoper en doeltreffender as mense verrig en hul vermoëns verder ontwikkel uit die data wat hul take oplewer. Kunsmatige intelligensie maak nuwe horisonne oop én skud mense uit hul gemaksones.

Rekenaars kan sekere beroepe bedreig, maar ander skep. Professionele dienste kan nou elektronies gelewer word. Die internet ontsluit die wêreld, ook vir ongeskooldes in afgeleë gebiede. Internasionale kenners sê kodering moet die belangrikste skoolvak wees.

“Nuttige” tegnologie sluit in die vermoë om kunsbloed te vervaardig, water uit lug te onttrek, kollageen vir chirurgie in tabakplante te “kweek”. “

“Skadelike” tegnologie is terroriste se misbruik van die internet vir gruweldade en werwing, kuberkrakers se diefstal, en die ontwrigting of manipulering van verkiesings.

Bio- en inligtingstegnologie, sowel as klimaatsverandering, gaan ons persoonlike, beroeps- en gemeenskapswêreld al vinniger omkrap. Ál meer persoonlike data oor mense skep ál slimmer algoritmes wat toenemend jou gedrag en koopimpulse beïnvloed. Data- en algoritme-eienaars gaan geld en mag hê.

Teenmiddels is om jouself deeglik te ken, ingelig en nuuskierig te bly, nie agter te raak nie, en om tyd in te ruim om stil, rustig, jou selfkennis te versterk.

Robotte gaan nie oornag oorneem nie. Verskillende lande en ekonomieë gaan op verskillende maniere geraak word, maar wie nie bybly nie, raak agter en, erger, irrelevant. Hierdie toekomsblik is nie ’n doemprofesie nie, eerder ’n wekroep vir die mensdom en mense om hul toekoms self te skep en te bestuur. Is só ’n toekoms jou nagmerrie of ’n opwindende geleentheid?

Die taak van ’n opvoeder vandag is om nimmereindigende leergierigheid, nuuskierigheid en ’n kritiese ingestelheid by leerders te kweek. Bly leer, vernuwe, herontwerp, herverpak en herbemark!

Eendimensionele elektroniese kommunikasie het eenvoudig nie die oogkontak, lyftaal, stemtoon en handgebare van menslike interaksie, kommunikasie, omgee en sorg nie. Internetinligting kom sonder lewenservaring, oordeel, wysheid en konteks.

Hier is ’n reistrommel met ses stukke gereedskap – wat jou ’n voorsprong in jou persoonlike en beroepslewe en ’n eie lang rakleeftyd kan bied. 

Ongeag jou beroep, vakrigting of persoonlikheid, is jy onwetend of teensinnig ’n bemarker en segsman. Dit is al manier om jou produk of diens bekend te stel en jou kundigheid meer doelgerig en treffender met meer mense te deel.  

[tussenkop]

Bemarking is differensiasie

Elke dag bestook kommunikasiemedia ons met derduisende boodskappe wat ons nooi om te koop, te gebruik, te dra, aan te sluit. Hoe word jy bó die geraasvlak gehoor en gesien?

Bemarking is nie ’n reklameveldtog of verkoopsbyeenkoms nie. Dit is jou vermoë om opvallend anders as die res te wees, met ander woorde, differensiasie. Kan jy iemand oortuig dat jou skool, produk, diens, beter en/of anders is as dié van mededingers? Kan jy dit wys of bewys?

Differensiasie kan een faktor wees: die suiwerste, vinnigste, gemaklikste. Of dit kan ’n ongeëwenaarde kombinasie wees van byvoorbeeld produk, diens en waarde.

Dit is nie spogtaal of verwaandheid nie. Sonder differensiasie moet ouers en leerders kies tussen vaal of vaal. Wees liewer anders. Die Afrikaanse skrywer, digter en dramaturg, Uys Krige sê: “Jy mag maar ‘brag’ oor jou beskeidenheid”!

[tussenkop]

Ek, ’n handelsmerk??

KFC, Levi’s, Nike en Volkswagen is handelsmerke (“brands”). Jou handelsmerk is die somtotaal van wat jy doen en klante se ervaring van jou. Die logo is bloot ’n visuele simbool. Dit kry net betekenis uit die handelsmerk-ervaring. ’n Handelsmerk is nie wat ’n onderneming oor homself sê nie, maar wat klante van hom sê.

Jy maak ’n afspraak met die skoolhoof vir jou kinders se nuwe skool. Alles verloop professioneel totdat ’n suur terreinopsigter jou twee blokke verder laat parkeer, jy leerders hoor vloek en die kleedkamer vuil aantref. Jy is al klaar onseker oor jou skoolkeuse teen die tyd dat jy die hoof ontmoet. Die swakste skakel in die skool se handelsmerkketting vorm jou indruk.

Handelsprodukte is nie al handelsmerke nie. Elke skool, instelling en individu deel , volgens wyle Thomas Gadd van Brandflight (bronverwysing? Ek het sy meesterklas bygewoon) dieselfde vierledige DNS:

  • die produk en diens wat jy aanbied (die vakkeuse, onderrigstandaarde, sport- en kultuuraanbod van die skool);
  • die toegevoegde waarde, mensontwikkeling, lewensvaardighede en insig wat die skool bied;
  • die leef en uitleef van waardes – in elke interaksie, gesprek, besluit (dit is nie ’n geraamde credo teen ’n kantoormuur nie); en,
  • die positiewe ervaring wanneer mense met jou handelsmerk te doen kry.

Doen hierdie vier dinge goed en jou skool kweek dieselfde lojale verhouding met ouers, oudleerlinge, leerders en borge wat die wêreld se voorste handelsmerke soos Apple, Red Bull, GoPro of Harley Davidson kenmerk. 

Skep ambassadeurs vir jou skool. Wees ’n goeie handelsmerk in jou optrede. Lojale verhoudings gebou op vertroue is goud werd.

[tussenkop]

Die kuns van oorredende kommunikasie

Almal kan mos praat, lees en skryf. Kommunikasie moenie ingewikkeld wees nie – ons het dit daagliks nodig. Moet dit ook nie onderskat nie.  Dis ’n kragtige vaardigheid en kuns.

Jy het twee ore en een mond. Gebruik dit in daardie verhouding. Luister jy werklik as iemand praat, of formuleer jy al klaar ’n slim antwoord? Dan gaan jy iets belangriks mis. Wees meer belangstellend as interessant. Vertel jou nabymense eerste, dan die buitewêreld. Jy is nie besig om data oor ’n foon te stuur nie. Jy praat met ’n mens. Soek die mensvaardigheidsknoppie op jou sleutelbord.

Hou dit eenvoudig. Einstein het gesê as jy iets nie eenvoudig kan verduidelik nie, verstaan jy dit self nie. Gee konteks: verduidelik waar iets inpas, waar dit vandaan kom en waarheen dit lei. Die prentjie van die legkaart maak die bou daarvan makliker. Moenie bang wees vir herhaling nie. Mense moet ’n nuwe begrip tot sewe keer hoor voordat dit werklik inslag vind. Hulle vergeet, hulle word oorlaai met inligting.

Sê wat jy bedoel en bedoel wat jy sê. Leer van rolmodelle en kommunikasiemeesters. Goeie kommunikasie is nie iemand anders se taak nie. Dis joune. Dis ook ’n kenmerk van leiers.

As jy hierdie beginsels toepas en jou vaardigheid slyp, sal jy geloofwaardigheid en oorredingsvermoë verwerf. Dit is baie kragtiger as ’n opdrag. Die boonste sport van die leer is kommunikasieleierskap, die vermoë om mense te inspireer. Op watter sport staan jy?

[tussenkop]

’n Netwerk is oneindig meer as die uitruil van visitekaartjies

’n Netwerk is ’n soort spaarklub of stokvel. Jy belê jou kennis en ervaring en onttrek dit wanneer jy dit nodig het. Dis ’n kragtige verlengstuk van jou eie vermoëns. Dis vrywillig, onselfsugtig en verryk jou persoonlike en beroepslewe, Dis informeel, maar met ongeskrewe reëls teen misbruik. Dit maak deure en geleenthede oop. Dit kos nie geld nie, net tyd en mededeelsaamheid.

Die opbou van ’n netwerk eindig nie by die praatjie, kongres of ete wat jy graag wil of moet bywoon nie. Dit is ook nie die lekker kuier agterna nie.

’n Ware netwerk begin met ’n handdruk, oogkontak, glimlag, vrae en aandagtig luister. Gedeelde belangstellings, probleme, oplossings, nuwe perspektiewe en werkwyses bied raakpunte vir volgehoue kontak. ’n Persoonlike boodskap die dag daarná begin die netwerkproses.

Stad Kaapstad het met die installering van sy veseloptika-netwerk omliggende eienaars die geleentheid gebied om vroegtydig teen ’n breukdeel van latere koste te verbind. Ek het my netwerk ingelig. Sommige het dit benut. ’n Arbeidskenner het my met ’n saak gehelp. Hy vra toe my hulp om – uit ’n kommunikasieperspektief – iemand se graad van berou te bepaal. Later het hy weer vir my ’n uitspraak in ’n dissiplinêre verhoor hersien. 

’n WhatsApp-groep in ’n buurt deel raad, kontakte, diensverskaffers, spesiale aanbiedings, veiligheidswaarskuwings, nuttige wenke. Netwerke kan jou ook op buitelandse reise neem.

[tussenkop]

Deurslaggewende gesprekke

Baie van ons gesprekke is alledaags, en wissel tussen diepsinnigheid en skerts.

Min mense word gebore met die natuurlike vermoë om ’n turksvygesprek te voer waar daar baie op die spel is, gepaard met emosie en sterk meningsverskil. Dít is ’n deurslaggewende gesprek. Hoe jy dit hanteer gaan bepaal of ’n vriendskap, professionele verhouding of ’n gesinsband skade ly en selfs verbreek word, en of dit hegter word.

Joseph Grenny, skrywer van Crucial Conversations en Crucial Accountability, (bronverwysing?) sê baie probleme in ons persoonlike en werksverhoudings spruit uit ons vermyding of swak hantering van deurslaggewende gesprekke.

Navorsing toon aan dat as jy in die eerste dertig sekondes ’n gemeenskaplike doelwit en wedersydse respek kan vestig, jy ’n 97%-kans het om gehoor te word. Praat deur, nie óm, die waarheid nie. Die gesprek is óf ’n put óf ’n pad. Praat met respek, maar met beslistheid. Hou dit kort. Luister aandagtig. Dit ontlont soms emosie as jy die ander se standpunt herhaal. Dit wys jy het gehoor en verstaan.

Dis makliker geskryf as gedaan, maar wat jy nie uitpraat nie, gaan jy uitleef. Jy loop (lewens-)lank met onafgehandelde meulstene en opgekropte frustrasie rond. ’n Suksesvolle deurslaggewende gesprek kan kragtig, opheffend en helend wees.

[tussenkop]

Omgeediens

Horst Schulze, (‘n aanbieding voor ‘n konferensie – bronverwysing?) ’n bekende internasionale hotelentrepreneur, sê “diens” is enige onderneming se ware eindproduk. Kennis en vorming is ’n skool se diens. 

Elkeen smag na goeie diens. As die winkelassistent nie weet, help of probeer nie, stap jy uit. As jy ’n glimlag, kennis, opregte raad en insig ervaar, keer jy terug en vertel ook vriende daarvan.

Baie instellings predik goeie diens. Hoe anders? Die verskil kom by verpersoonlikte omgeediens. Schulze sê die universele behoefte is ’n produk of diens wat sonder defek is, presies wanneer jy dit nodig het, maar verreweg die belangrikste is dat dié wat die diens lewer vriendelik is met jou en waarlik omgee.

Dis hoe ’n skool en enige onderneming lojale ondersteuners bou, ambassadeurs kweek, gunstige verwysings kry en, in moeilike tye, steun ontvang en die aanvaarding van ’n tydige, opregte verskoning vir ’n fout.

Daar is drie soorte “klante”: ontevredenes wat jou ongevraagd sal kritiseer en beswadder, tevredenes wat neutraal is en lojales wat by jou staan en jou onderneming of skool laat groei. Van Schulze se reëls sluit in: 90% van die hotelgaste moet wil terugkom of die hotel aanbeveel; gaste moet selfs in spitstyd hoogstens 20 sekondes wag om in te teken; die portier het ’n opdrag om berge te versit om ’n ontevrede gas te behou, wat kan insluit die herstel van ’n televisiestel, ’n gratis ontbyt of huurmotorrit.

’n Skool en ’n onderwyser lewer juis ’n bepalende omgeediens.

[tussenkop]

Oorlewingsgids

Die lewe is nie ’n 100 meter-wedloop nie, maar ’n marathon. Hardloop strategies en takties, anders sak jy uit en moet onttrek. Hier is ’n oorlewingsgids:

  • Put jou krag uit ’n geestelike anker(s).
  • Leef gebalanseerd ten opsigte van werk, ontspanning en plesier.
  • Bly aktief. Vinnig stap help vir jou hart, longe, rug, bene, gemoed en perspektief.
  • Slaap genoeg.
  • Eet en drink (meestal water) gebalanseerd, vars en matig. Beperk suiker, koolhidrate en alkohol.
  • Ontspan met musiek, lees, kook, honde, handewerk…
  • Leef jou roeping uit. Wat is jou rol op aarde?
  • Kry ’n mentor en wees ook een.
  • Koester jou boesemvriende en wees ’n goeie vriend vir hulle.
  • Johann Coetzee sê: Dis ’n kwessie van tyd. Wat maak jy met die tyd wat jy gegun word? Wanneer is genoeg genoeg? Die vraag gaan oor besittings, maar ook die verwaarlosing van jouself en jou mense ter wille van jou ambisie.
  • Oefen jou in om na die stem van die stilte te luister.

Die reistrommel en oorlewingsgids is nou joune.

Oor die skrywer

Pieter Cronjé se beroepsreis is joernalistiek, uitsaaiwese, verkiesings, die energie- en finansiëledienstebedryf, plaaslike regering en internasionale konsultasie. Hy was kommunikasiedirekteur vir die 1994-verkiesing, vir die Stad Kaapstad, vir die 2010- Sokker Wêreldbeker, en woordvoerder vir ses organisasies. Hy het Brasilië en Rusland gehelp met hul Wêreldbekertoernooie in 2014 en 2018. Hy gee deeltyds klas aan die Universiteit Stellenbosch, is betrokke by internasionale motorsport en adviseer ’n groot verskeidenheid kliënte.